
Om te leer lees is een van die belangrikste vaardighede wat ‘n kind aanleer. Dit is ‘n proses wat tyd neem en ‘n verskeidenheid tegnieke en ondersteuning benodig. Kinders ontwikkel leesvaardighede op verskillende ouderdomme, en hoewel sommige reeds op 4- of 5-jarige ouderdom begin lees, bemeester die meeste kinders leesvaardigheid tussen die ouderdomme van 6 en 7 jaar.
Navorsing toon dat kinders wat vroeër leer lees, ‘n groter woordeskat, beter algemene kennis en selfs verbeterde konsentrasie het. Lees lê aan die kern van alle akademiese leer, en hoe sterker ‘n kind se leesvaardighede is, hoe beter kan hulle ander vakke soos wiskunde bemeester.
Om ‘n kind se leesvermoë te ontwikkel, moet verskeie vaardighede geïntegreer word. Hierdie vaardighede sluit in fonetiese bewustheid, klankherkenning, woordeskatontwikkeling, leesbegrip en vlotheid. Leesvlotheid word bereik wanneer ‘n kind woorde outomaties, akkuraat en vinnig kan herken. Dit stel hulle in staat om hul aandag op die inhoud van die teks te vestig, eerder as om sukkelend deur elke woord te klank.
1. Klankherkenning & Dekodering
Dit is die vermoë om letters en hul klanke te herken en dit te kombineer om woorde te vorm. Begin deur letters in ‘n bekende konteks te leer, soos ‘n kind se eie naam. Vermy om letters in alfabetiese volgorde aan te leer – leer eerder letters wat vinnig saam woorde kan vorm, soos m, s, a, t. Dit help kinders om gou eenvoudige woorde soos “m-a-t of t-a-s” te lees.
2. Leesvlotheid & Tempo
Leesvlotheid verwys na die vermoë om woorde vinnig en korrek te lees sonder om te huiwer. Dit verbeter wanneer kinders dikwels blootgestel word aan teks en oefening kry om woorde binne sinvolle sinne te herken. Interaktiewe aktiwiteite soos lees-speletjies, flitskaarte en aanlynprogramme kan hierdie vaardigheid verbeter.
3. Woordeskatontwikkeling
‘n Goeie woordeskat is noodsaaklik vir leesbegrip. Help kinders om nuwe woorde te leer deur stories, geselskap en speletjies. Bespreek prente in boeke en vra vrae oor woorde se betekenisse. Aanlyn-leesprogramme bied ook ‘n groot verskeidenheid boeke wat aangepas is vir kinders se vlak van woordeskat.
4. Begripsvaardighede
Leesbegrip behels die vermoë om die betekenis van ‘n teks te verstaan en daaroor te redeneer. Vra kinders om vrae oor die storie te beantwoord, voorspellings te maak oor wat volgende gaan gebeur en die teks in hul eie woorde op te som. Studies toon dat kinders wat dikwels lees, beter presteer in spelling en wiskunde.
5. Fonemiese Bewustheid
Sodra ‘n kind ‘n paar letters en hul klanke ken, is dit belangrik om samevoegings (“blending”) te oefen. Dit beteken om individuele klanke te verbind om ‘n woord te vorm, soos k-a-t = kat. Dit help kinders om self nuwe woorde te vorm en fonemiese bewustheid te verbeter.
6. Skryf & Skryf
Lees en skryf is nou geintegreer. Kinders wat leer om woorde te lees, moet ook leer hoe om dit neer te skryf. Deur te klank-en woorde te skryf, versterk kinders hul vermoë om woorde te herken en te onthou. ‘n Maklike manier om dit te oefen, is deur kinders te laat spel met magnetiese letters, kryte of witborde. Let wel dat die korrekte lettervorming baie belangrik is.
7. Uitdrukking & Intonasie
Wanneer kinders hardop lees, moet hulle hul stem aanpas by die toon van die teks. Hulle moet leer hoe leestekens soos kommas en vraagtekens hul stemtoon kan beïnvloed. Dit maak lees meer natuurlik en help met begrip.
8. Lees as ‘n Gewoonte
Kinders wat gereeld lees, verbeter hul vaardighede vinniger. Dit is belangrik dat ouers en onderwysers ‘n liefde vir lees kweek deur dit ‘n prettige aktiwiteit te maak. Dit kan gedoen word deur leeshoekies te skep, boeke maklik toeganklik te maak en gesamentlike leesgeleenthede te hou.
Die Rol van Ouers & Skole
Ouers en skole speel ‘n kritieke rol in ‘n kind se leesontwikkeling. Skole kan gestruktureerde programme gebruik om kinders te ondersteun, terwyl ouers ‘n liefde vir lees by die huis kan aanmoedig deur leesrituele, storievertelling en speletjies.
Navorsing toon dat kinders wat van kleins af gereeld lees, ‘n 14.4% hoër woordeskat, ‘n 9.9% beter prestasie in wiskunde en ‘n 8.6% verbetering in spelling het in vergelyking met kinders wat minder lees. Dit is dus duidelik dat ‘n goeie leesgewoonte ‘n groot akademiese voordeel bied.
Maak lees ‘n prettige en lonende ervaring vir kinders – dit is ‘n geskenk wat vir altyd sal hou.
Hier is ‘n lys van belangrike leesvaardighede wat leerders moet ontwikkel om effektiewe lesers te word:
1. Dekodering & Klankbewustheid
✔ Herken en benoem letters en klanke (bv. a vir appel, b vir bal ens.)
✔ Klank woorde uit en dekodeer onbekende woorde.
✔ Herken sigwoorde vinnig en vlot – gebruik flitskaarte.
2. Leesvlotheid & Tempo
✔ Lees vlot en met selfvertroue sonder huiwering.
✔ Gebruik leestekens soos punte, komma’s en vraagtekens korrek.
✔ Lees met ‘n natuurlike ritme en pas die tempo aan volgens die teks.
3. Begrip & Kritiese Denke
✔ Verstaan die boodskap en hoofgedagte van ‘n teks.
✔ Beantwoord laer- en hoër-orde vrae oor ‘n teks.
✔ Maak voorspellings oor wat volgende in ‘n storie kan gebeur.
✔ Koppel die teks aan persoonlike ervarings en ander geleerde kennis.
4. Leesstrategieë & Woordeskatontwikkeling
✔ Gebruik konteks om die betekenis van nuwe woorde af te lei.
✔ Brei woordeskat uit deur nuwe woorde te leer en in sinvolle sinne te gebruik.
✔ Stel vrae oor die teks en bespreek karakters, plekke en gebeure om ‘n dieper begrip te ontwikkel.
5. Uitdrukking & Intonasie
✔ Pas stemtoon en emosie aan volgens die teks.
✔ Beklemtoon belangrike woorde om betekenis te versterk.
✔ Gebruik ‘n duidelike en selfversekerde stem vir effektiewe kommunikasie.
6. Leesbegripstrategieë
✔ Skandeer (‘skim’) deur ‘n teks om belangrike inligting vinnig te vind.
✔ Som ‘n teks op in eie woorde om te wys dat die kernboodskap verstaan word.
✔ Gebruik prentjies en illustrasies om begrip te ondersteun en te verdiep.
Samevatting
Lees is ‘n proses wat aanhoudende oefening en blootstelling vereis. Die sleutel tot sukses is om die regte strategieë en tegnieke te gebruik sodat kinders met selfvertroue en begrip kan lees. Hoe vroeër ‘n kind ‘n sterk leesgrondslag ontwikkel, hoe beter sal hul akademiese sukses wees.

Helpful!