OORGANG VAN GRAAD 3 NA GRAAD 4

Die oorgang van Graad 3 na Graad 4 is een van die belangrikste mylpale in ’n kind se skoolloopbaan. Dit is nie net ’n nuwe graad nie – dit is ’n fase-oorgang van die Grondslagfase (Graad R–3) na die Intermediêre Fase (Graad 4–6).

Graad 3 na Graad 4 oorbrugging:

  • Meer Vakke: Leerders kry nou aparte vakke soos Natuurwetenskappe & Tegnologie, Geskiedenis, Aardrykskunde, en Ekonomiese & Bestuurswetenskappe.
  • Meer Huiswerk en Toetse: Assessering word meer formeel, en kinders moet leer hoe om te studeer.
  • Selfstandigheid: Onderwysers verwag dat kinders hul boeke self organiseer en take betyds voltooi.
  • Lees en Skryf: Leerders moet langer tekste kan lees en meer onafhanklik skryf.

Akademiese Voorbereiding

1. Leesvaardigheid

– Lees elke dag kort boeke of stories hardop.

– Moedig jou kind aan om sy huiswerkopdragte self te lees en te interpreteer. GSF juffies is soms baie geneig om heeltyd self instruksies vir kinders te gee en presies te verduidelik wat hulle moet doen en dit maak kinders baie lui om self opdragte te lees.

– Bou woordeskat in beide Huistaal en Engels.

2. Skryfvaardigheid

– Laat jou kind kort paragrawe skryf (bv. oor hul dag, of ’n storie).

– Fokus op spelling, leestekens en sinstruktuur.

3. Wiskunde

– Maak seker basiese getalfeite (optel, aftrek, maal, deel) is vlot.

– Oefen hoofrekene (sonder ’n sakrekenaar).

– Werk met breuke, geld, tyd en meetkunde.

4. Studie tegnieke (baie belangrik)

– Leer hoe om opskrifte te gebruik, belangrike punte te onderstreep en opsommings te maak.

– Gebruik visuele hulpmiddels soos kaarte en diagramme.

Emosionele en Praktiese Voorbereiding

1. Organisasie-vaardighede

– Leer jou kind hoe om ’n huiswerkboek te gebruik.

– Skep ’n stil werkplek by die huis.

2. Onafhanklikheid

– Laat jou kind self skooltas pak en organiseer.

– Moedig aan dat hulle take begin sonder dat jy heeltyd herinner.

3. Selfvertroue en Houding

– Praat positief oor Graad 4 en die nuwe uitdagings.

– Help hulle verstaan dat foute deel van leer is.

4. Praktiese Wenke vir Ouer/Opvoeder

– Hou daaglikse roetine met lees- en wiskunde-oefening.

– Gebruik aanlyn hulpbronne, werkboekies of speletjies om leer lekker te maak.

– Gesels gereeld met jou kind oor hoe hulle voel oor die nuwe graad.

– Bou goeie studiegewoontes vroeg – dit maak Graad 4 baie makliker.

’n Graad 3 leerder moet teen die einde van die jaar vlot kan lees, duidelik kan skryf, getalfeite goed ken, en begin onafhanklik werk. As ouer/opvoeder help jy deur daaglikse oefening, ondersteuning, en ’n positiewe gesindheid te kweek.

Shopping Cart
Scroll to Top